Macassar Primêre Skool sê dankie!!!
08 September 2024
‘n Miernes van bedrywighede het die gemeenskap, ouers van leerders, en die algemene publiek Saterdag 07de September 2024 begroet toe hulle ons skool se terein binnegekom het. Die opgewondenheid en gees wat daar geheers het, het jou waarlik laat dink: “Hulle weet nie wat ons weet nie!”
Kyk ‘n bazaar in die hart van Macassar en dit nogals op die skool gronde, is iets heeltemal anders! Braai hoender vure, bazaar mandjies, musiek wat al daar onder in die straat gehoor kon word, spring-kastele, quat bikes, perde ritte, het alles meegedoen aan wat nou bekend staan as Macassar se Bazaar!
Baie het die Springbok groen en goud aangehad en hier en daar het ons ‘n All Black ondersteuner gesien, want sien…later in die dag sal ook ons land se nasionale span teen die gedugte All Black span moet kompeteer vir die Nelson Mandela Beker – die Freedom Cup soos dit bekend staan.
Psst… Die Bokke het daai kragmeeting gewen en kon toe spog met die Beker.
Terug by ons baie suksesvolle basaar; Dit het inderdaat ons harte warm gelaat en lekker laat klop om die sonnige dag en goeie bywoning te sien. Die musiek was ‘n groot attraksie met ons eie kinders wat dansgroepe gevorm het en ons vermaak het met hul grasieuse danspassies.
Lang rye kinders het by die spring-kasteel, quad bikes en perde geduldig gewag om hulle oomblikke van pret en plesier te beleef. Die nasionale aktiwiteit van die bruinmense was ook nie afgeskeep nie! Dominoes, ja, Dominoes… Wat is ‘n funksie sonder dominoes of kaartspel? (Oops, dit was mos voor die koms van die selfoon met sy magdom van digitale speletjies!)
My kleinkinders het al hul spaargeld gegryp en my al vroeg oggend verpes dat ons nou sal moet aanstaltes maak om by die basaar uit te kom. Vir agt jariges en ses jariges is R150 ‘n verskriklike klop geld. Natuurlik moes oupa maar so ietsie ekstra saamneem, want voor 11uur die oggend was al die spaargeld al uitgekoop.
Namens ons skool, Macassar Primêre Skool, wil ons graag ons dank uitspreek vir elkeen wat gehelp het om die dag suksesvol te maak.
Volgende jaar maak ons weer so…